Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 17 MEI 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van J H Fuller, ZS6JHF, na ‘n bereoerte in die ouderdom van 58 jaar op 25 April. Aan sy eggenote Elise, Chantelle en ander familie en vriende, ons innige esimpatie.

(POUSE)

In die nuus vandag:

AMATEURRADIO NA GAUTENG-SKOLE GENEEM

’N TREE VORENTOE MET UITBREIDING VAN 40-METERBAND

VOLGENDE RTA IN DURBAN

JEUGDAGNAELLOOP OM JEUG AAN PRAAT TE KRY

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

AMATEURRADIO NA GAUTENG-SKOLE GENEEM

Die SARL werk met die Sci Bono-wetenskapsentrum en die Gautengse Provinsiale Onderwysdepartment saam om amateurradio na tegniese hoërskole te neem en die klas B-leerplan en die Elektriese Tegnologie-kurrikulum vir graad 10 en 11 by mekaar uit te bring. Die projek sluit 82 skole asook 88 onderwysers in die provinsie in.
Die plan is om die onderwysers teen die einde van die jaar as radioamateurs te bekwaam en om die gewysigde Elektriese kurrikulum vanaf 2010 aan graad 10-leerders bekend te stel.
Die SARL-Raad het tydens sy onlangse strategiese indaba in beginsel met die konsep saamgestem, en ’n subkomitee is aangewys om die voorstelle en implikasies te bestudeer. Die subkomitee bestaan uit die raadslid vir jeugsake en opleiding, Gerhard Coetzee, ZS3TG, die RAE-bestuurder, Mark Zank, ZS6YES, en die raadslid vir Regulatoriese Sake en Bemarking, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV. Die subkomitee het die afgelope week vergader met Chris Gryffenberg, ZS6COG, GSES: Elektriese Tegnologie van die Gautengse Onderwysdepartement. Die eerste stap is om ’n memorandum van verstandhouding op te stel wat tydens die volgende Raadsvergadering in Junie bespreek sal word.

’N TREE VORENTOE MET UITBREIDING VAN 40-METERBAND

Daar is ‘n bietjie vordering met die uitbreiding van die 40-meterband. OKOSA het hierdie week bevestig dat die finale dokument nou gereed is om Dinsdag by die volgende Raadsvergadering voorgelê te word. As dit goedgekeur word, sal dit kort daarna in die Staatskoerant gepubliseer word.
Hou die SARL webblad dop vir die nuutste inligting.

VOLGENDE RTA IN DURBAN

Positiewe kommentaar oor die 2009 RTA-program word nog steeds op die bande in Gauteng gehoor. Dit wissel van “ongelooflik” tot “die beste ooit”. Reëlings vir die Durban RTA op 30 Mei by die Universiteit van KwaZulu-Natal is afgehandel. Daar is heelwat goeie bywoningspryse, geborg deur Coast to Coast, op die spel. Sluit by ons aan vir ‘n vonkelende Saterdag.
Reëlings vir die RTA in die Oos-Kaap in Port Elizabeth is byna afgehandel. Die geleentheid vind Saterdag 20 Junie by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit plaas.
Al die besonderhede van die RTA-program is beskikbaar op www.sarl.org.za.

OI-PROGRAM BEGIN EERSDAAGS

Die SARL se Openbare Inligtingsprogram begin eersdaags. Slegs ‘n paar klubs het kandidate aangewys, wat ‘n jammerte is omdat die klubs, net soos die SARL en amateurradio, baie daarby gaan baat. Die OI-program se doelwit is die opleiding van klublede as openbare inligtingsbeamptes en om reklame en ondersteuningsmateriaal te voorsien. Die volgende klubs het tot dusver ‘n afgevaardigde genomineer: Boland Amateurradioklub, Wesrand Amateurradioklub, Magalies Radioamateurklub en Sasolburg Amateurradioklub.
Kry volle besonderhede in die nuusafdeling op www.sarl.org.za – klik op “ClubTalk”.

ONDERSTEUN WETENSKAP EN DIE JEUG

Die Sci Bono-wetenskapsentrum se Wetenskapfees word deur die week gehou en amateurradio is een van die fokusareas. Luister uit vir ZS6SCI in die oggende en maak ‘n jongmens se dag.

JEUGDAGNAELLOOP OM JEUG AAN PRAAT TE KRY

Die Jeugnaelloop op 16 Junie 2009 is daarop gemik om om jongmense met mekaar te laat gesels, en u kan die katalisator wees wat dit laat gebeur. Die geleentheid duur twee uur, van 10:00 tot 12:00 SAT op die 40-meterband. Stel u stasie op in ‘n openbare plek of nooi jongmense na u hok. ’n RS-verslag en die operateur se ouderdom word uitgeruil.
Die tellingstruktuur is: 5 punte vir kontakte tussen twee operateurs onder 25 jaar, slegs 2 punte indien een operateur 26 of ouer is, en een punt indien albei 26 of ouer is.
Daar is prettige pryse te wen deur deelnemers onder 25, nie net vir die hoogste punte nie, maar ook deur ’n loting, en as bonus kry alle deelnemers onder 25’n sertifikaat.
Om die bevordering van amateurradio onder die jeug te vergemaklik en om praktiese deelname aan te moedig, het die SARL se president, Rassie Erasmus, ZS1YT, gesê dat alle stasies wat ongelisensieerde jongmense onder 25 aan die naelloopkompetisie laat deelneem, as opvoedkundige stasies beskou sal word. Hierdie stasies moet die jeugdiges egter help om hulle logs vir die kompetisie in te stuur.
Die roepsein (individu of klub) wat die meeste ongelisensieerde jongmense op die lug bring tydens die kompetisie sal ‘n jaar se SARL-lidmaatskap losslaan. Kontak Gerhard Coetzee, ZS3TG, vir verdere inligting.

KOMPETISIENUUS

Die uitslae van twee plaaslike kompetisies is beskikbaar gestel vir publikasie. Daar was baie aktiwiteit op die 40-meterband vir die Herfs-QRP-naelloop, maar slegs 7 logstate is ontvang.

1st Andre, ZS2ACP, 15 120 punte (1 watt);
2de Jan, ZS4JAN, 4 648 punte (5 watt);
3de Johan, ZS1I, 1 628 punte (5 watt);
4de Pierre, ZS6BB/5, 1 520 punte (5 watt);
5de Bill, ZS6KO, 684 punte (3 watt);
6de Dylan, ZU6D, 672 punte (5 watt);
7de Dirk, ZS1X, 504 punte (5 watt).

Slegs vier logstate is ontvang vir die SARL BHF/UHF digitale kompetisie en daar is net op 50 en 70 MHz deelgeneem.

Algehele Wenner – Andre, ZS2ACP, 33 996 punte;
Wenner Afdeling 1– John, ZS1AGF, 13 224 punte;
Wenner Afdeling 2– Andre, ZS2ACP, 33 996 punte;
Wenner Afdeling 6– Bert, ZS6HS, 8 780 punte met Paul, ZS6NK, in tweede plek met 7 686 punte.

Andre, ZS2ACP, het die hoogste telling op 50 MHz behaal en deel ook die eerste plek op 70 MHz met Paul, ZS6NK.

Vier Suid-Afrikaanse stasies verskyn in die uitslae van die 2008 CQ WW RTD DX Kompetisie. Donovan, ZS2DL, Thian, ZS2Y, en Jacques, ZS1JY, het in die enkeloperateurklas deelgeneem, terwyl Barry, ZS2EZ, in die enkeloperateur- ondersteunende klas deelgeneem het.
Dankie aan almal vir hulle deelname en baie geluk aan al die wenners.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. 'n Klein sonvlekkie het die afgelope week sy verskyning gemaak. Die sonvlek behoort aan sonvleksiklus 24 wat na verwagting sy piek gedurende Mei 2013 gaan bereik. Begin solank dink aan 10- en 6-m-antennas!
Die hoeveelheid energie van die son wat die suidelike ionosfeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het reeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX. Smiddae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. In die laatmiddag en saans gaan toestande na die noorde goed wees. Noordoostelike, noordwestelike, suidoostelike en suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpad-propagasie na die VSA is ook moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort in die vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan sluimer, alhoewel goeie resultate nog tot middagete verkry kan word. Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die statiese geraasvlakke nog ‘n bietjie hoog, wat uitdagings bied.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 tot 22 Mei – Spesiale Geleentheidstasie, ZS6SCI, Sci Bono op die lug;
20 Mei – Radioamateureksamen;
24 Mei – ZS4-naelloop;
26 Mei – Sandtonklub se tegniese vergadering by die NARS;
30 Mei – ZS6PTA Mega-vlooimark en RTA in Kwazulu-Natal;
16 Junie – Jeugdagnaelloop.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel is en deur Hester van der Walt taalversorg is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003